8. Ek is hier saam met u volk, U het hulle gekies. Hulle is ’n groot volk, so groot dat ’n mens hulle nie kan tel en elkeen se naam kan noem nie.
9. U moet my help om gehoorsaam te wees aan U sodat ek reg kan regeer oor u volk en sodat ek kan weet wat reg is en wat verkeerd is. Niemand kan oor hierdie belangrike volk van U regeer as U hom nie help nie.”
10. Die Here was bly dat Salomo dit gevra het.
11. Hy het vir Salomo gesê: “Jy het dit gevra, jy het nie ’n lang lewe gevra of om ryk te word nie, of dat jou vyande moet sterf nie. Jy het gevra dat jy sal weet wat reg is.
12. Daarom sal Ek nou doen wat jy gevra het. Ek gee vir jou wysheid en verstand, niemand vóór jou het soveel wysheid gehad nie en niemand ná jou sal soveel wysheid hê nie.
13. Ek gee ook vir jou wat jy nie gevra het nie. Jy sal jou hele lewe lank die rykste wees van al die konings, en die mense sal jou meer respekteer as vir die ander konings.
14. As jy lewe soos Ek wil hê en as jy doen wat Ek vir jou gesê het, soos jou pa Dawid ook gedoen het, dan sal Ek jou lank laat lewe.”
15. Toe Salomo wakker word, het hy geweet die Here het met hom gepraat in ’n droom. Hy het na Jerusalem gegaan en hy het voor die verbondskis van die Here gaan staan. Hy het brand-offers en ete-offers gebring en hy het al sy amptenare genooi om saam met hom te eet.