1 Konings 1:4-14 Bybel vir Almal (ABA)

4. Sy was ’n baie mooi meisie. Sy het die koning bedien en vir hom gesorg, maar hy het nie seks gehad met haar nie.

5. Adonia, die seun van Dawid en sy vrou Gaggit, het gedink hy is die belangrikste seun van Dawid en hy wou graag koning word. Adonia het vir hom ’n oorlogkar en perde gekry en hy het 50 manne voor hom laat hardloop.

6. Vandat hy klein was, het sy pa nooit met hom geraas nie en nooit vir hom gevra hoekom hy verkeerde dinge gedoen het nie. Adonia was ’n mooi man en hy was Absalom se jonger broer.

7. Adonia het gepraat met Joab seun van Seruja en met die priester Abjatar, en hulle het belowe om hom te help om koning te word.

8. Maar die priester Sadok en Benaja seun van Jojada wou nie vir Adonia help nie, en ook nie die profeet Natan en Simeï en Reï en die manne wat die koning opgepas het nie.

9. Adonia het skape en bokke en beeste en vet kalwers laat slag by die Sogelet-rots wat naby Rogel-fontein is. Hy het al sy broers, die prinse, genooi om saam te eet, en ook die leiers van Juda wat amptenare van Dawid was,

10. maar Adonia het nie die profeet Natan genooi nie, ook nie die manne wat die koning opgepas het en ook nie sy broer Salomo nie.

11. Natan het vir Salomo se ma Batseba gaan sê: “Het jy gehoor dat Adonia seun van Gaggit koning geword het? En ons meneer Dawid weet dit nie.

12. Kom, ek sal vir jou sê wat jy moet doen sodat jy jou eie lewe en die lewe van jou seun Salomo kan red.

13. Jy moet na koning Dawid toe gaan en vir hom sê: ‘Meneer die koning, jy het vir my belowe, en die Here was die getuie, dat my seun Salomo koning sal word ná jou en dat hý op jou troon sal sit. Hoekom het Adonia nou koning geword?’

14. Terwyl jy met die koning praat en dit vir hom sê, sal ek na jou toe kom en ek sal vir die koning sê jy praat die waarheid.”

1 Konings 1