1 Konings 1:15-26 Bybel vir Almal (ABA)

15. Batseba het by die koning in sy kamer gekom. Die koning was baie oud. Abisag van Sunem het vir die koning gesorg.

16. Batseba het gekniel en voor die koning gebuig, en die koning het vir haar gevra: “Wat kan ek vir jou doen?”

17. Batseba het vir die koning gesê: “Meneer, jy het belowe, en jou God die Here was die getuie, dat my seun Salomo koning sal word ná jou en dat hý op jou troon sal sit.

18. Maar, Meneer die koning, nou het Adonia koning geword, en jy weet dit nie.

19. Adonia het baie beeste, vet kalwers en skape en bokke geslag en hy het al die prinse genooi en ook die priester Abjatar en Joab, die hoof van die leër, maar hy het nie vir Salomo genooi nie.

20. Meneer die koning, al die mense van Israel wag dat jy moet sê wie op jou troon sal sit ná jou.

21. As jy dit nie doen nie, wat sal dan gebeur wanneer Meneer die koning gesterf het en by jou voorvaders begrawe is? Die mense sal dan sê ek en my seun Salomo is skuldig.”

22. Terwyl Batseba met die koning gepraat het, het die profeet Natan daar gekom.

23. Die mense het vir die koning gesê: “Hier is die profeet Natan ook nou.”Natan het ingekom en hy het laag voor die koning gebuig met sy gesig teen die grond.

24. Hy het gesê: “Meneer die koning, het jy gesê Adonia sal ná jou koning word en op jou troon sit?

25. Want hy het vandag gegaan en hy het baie beeste en vet kalwers en skape en bokke geslag. Hy het al die prinse genooi en ook die hoofde van die leër en die priester Abjatar. Hulle eet en drink nou saam met hom en hulle sê: ‘Ons bid dat koning Adonia lank sal lewe!’

26. Maar Adonia het nie vir my en die priester Sadok en Benaja seun van Jojada en Salomo genooi nie.

1 Konings 1