1 Johannes 3:1-14 Bybel vir Almal (ABA)

1. Julle kan seker wees dat die Vader baie lief is vir ons. Hy het ons sy kinders gemaak en nou is ons kinders van God. Die mense van die wêreld wou nie vir God ken nie. Daarom wil hulle ons ook nie ken nie.

2. Vriende, ons is nou kinders van God. Ons weet nog nie presies hoe wonderlik ons eendag sal wees nie, maar ons weet dit: Wanneer Jesus kom, dan sal ons wees soos Hy, want ons sal Hom sien soos Hy regtig is.

3. Almal wat seker is dat Jesus weer kom, reinig hulleself sodat hulle rein is, soos Jesus rein is.

4. Almal wat sonde doen, doen nie wat God se wette sê nie, want wanneer iemand nie doen wat God se wette sê nie, dan doen hy sonde.

5. Julle weet dat Jesus na die aarde gekom het om sondes weg te neem, Hy wat self niks sonde gedoen het nie.

6. Mense wat aan Hom behoort, hou nie aan om sonde te doen nie, maar mense wat aanhou om sonde te doen, glo nie in Hom nie en hulle ken Hom nie.

7. Vriende, julle moenie luister na mense wat verkeerde dinge vir julle leer nie. Mense wat lewe soos God wil hê, is gehoorsaam aan God, soos Jesus gehoorsaam is aan God.

8. Maar mense wat aanhou om sonde te doen, is kinders van die duiwel, want die duiwel doen van die begin af sonde. Die Seun van God het na die wêreld gekom sodat die duiwel nie sal kan doen wat hy wil doen nie.

9. Mense wat God se kinders is, hou nie aan om sonde te doen nie, want God het die ware lewe in hulle harte laat begin. Hulle kan nie aanhou om sonde te doen nie, want hulle is God se kinders.

10. Hoe weet ’n mens wie is kinders van God en wie is kinders van die duiwel? Kinders van God doen wat God wil hê en hulle is lief vir die ander gelowiges.

11. Toe julle begin het om in Jesus te glo, het julle gehoor dat julle lief moet wees vir mekaar.

12. Julle moenie soos Kain wees nie. Hy was ’n kind van die duiwel en hy het sy broer vermoor. Hoekom het hy sy broer vermoor? Hy het dit gedoen omdat hý slegte dinge gedoen het, maar sy broer het gedoen wat God wil hê.

13. Vriende, wanneer die mense van die wêreld vir julle haat, dan moet julle nie verbaas wees nie.

14. Ons weet dat ons nie meer geestelik dood is nie, ons lewe. Ons weet dit omdat ons lief is vir die ander gelowiges. Mense wat nie lief is vir ander gelowiges nie, is nog geestelik dood.

1 Johannes 3