Romeine 9:18-31 Afrikaans 1983 (AFR83)

18. Dit is dus inderdaad so dat God Hom ontferm oor wie Hy wil, en dat Hy verhard wie Hy wil.

19. Nou sal jy vir my sê: “Maar waarom verwyt Hy ons dan nog? Wie kan tog teen sy wil ingaan?”

20. Mens, wie is jy per slot van rekening dat jy met God wil redeneer? Hoe kan die maaksel vir sy maker sê: “Waarom het jy my so gemaak?”

21. Het die pottebakker nie die reg om uit dieselfde klomp klei iets besonders én iets alledaags te maak nie?

22. En as God dieselfde wou doen? Hy wou sy toorn laat sien en sy mag bekend maak. Daarom het Hy die voorwerpe van sy toorn, die mense wat reg was om verdelg te word, met groot geduld verdra.

23. So sou Hy ook die rykdom van sy heerlikheid bekend maak oor die voorwerpe van sy ontferming, die mense wat Hy vantevore voorberei het om aan sy heerlikheid deel te hê.

24. En onder hulle is ook ons, wat Hy nie net uit die Jode nie, maar ook uit die ander nasies geroep het.

25. So sê Hy dan ook in die boek Hosea:“Hulle wat nie my volk is nie,sal Ek roep om my volk te wees,en haar wat geen liefde ontvang het nie,om my geliefde te wees.”

26. “En in plaas daarvan dat vir hulle gesê is:‘Julle is nie my volk nie,’sal hulle geroep word om kinders van die lewende God te wees.”

27. En Jesaja roep van Israel dít uit:“Al was die Israeliete so baie soos die sand van die see,net die handjievol wat oorbly, sal gered word,

28. want die Here gaan eens en vir altydhier op aarde die saak afhandel.”

29. So het Jesaja trouens al vroeër gesê:“As die Here, die Almagtige,nie vir ons 'n klompie laat oorbly het nie —soos met Sodom sou dit met ons gegaan het,soos Gomorra sou ons uitgewis gewees het.”

30. Wat is nou ons gevolgtrekking?Dít: heidene het nie God se vryspraak gesoek nie, maar dit wel gekry — die vryspraak deur die geloof.

31. Israel, daarenteen, het 'n wet gesoek waardeur hulle God se vryspraak sou kon kry, maar by so 'n wet het hulle nie uitgekom nie.

Romeine 9