Romeine 16:3-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

3. Groete vir Priscilla en Akwila, my medewerkers in Christus Jesus

4. wat hulle lewe vir my gewaag het. Dit is nie net ek wat hulle dankbaar bly nie, maar ook al die gemeentes onder die heidennasies.

5. Groete ook aan die gemeente wat gereeld in hulle huis bymekaarkom.My groete verder ook aan my liewe vriend Epenetus, die eerste bekeerling vir Christus in die provinsie Asië,

6. en aan Maria, wat baie moeite vir julle gedoen het.

7. Gee my groete ook aan Andronikus en Junias, my volksgenote wat saam met my in die gevangenis was; hulle is hoog aangeskrewe by die apostels en het voor my al Christene geword.

8. En dan stuur ek ook groete vir Ampliatus, my liewe vriend in die Here,

9. vir Urbanus, my medewerker in Christus, en vir my liewe vriend Stagis;

10. ook vir Apelles — hy het gewys wat in hom steek as gelowige — en die huis van Aristobulus;

11. vir Herodion, my volksgenoot, en vir dié uit die huis van Narsissus wat tot die geloof gekom het.

12. Groete verder ook aan Trifena en Trifosa, ywerige werksters vir die Here, en aan my liewe Persis, wat al baie vir die Here gedoen het.

13. Dra ook my groete oor aan Rufus, die voortreflike werker in diens van die Here, en aan sy moeder, wat ook vir my altyd 'n ma was.

14. En dan ook nog groete aan Asinkritus, Flegon, Hermes, Patrobas, Hermas en al die broers daar by hulle;

15. ook aan Filologus en Julias, Nereus en sy suster en Olimpas en al die ander gelowiges daar by hulle.

16. Groet mekaar met 'n soen van Christelike broederskap. Al die gemeentes van Christus stuur vir julle groete.

17. Ek druk julle dit op die hart, broers: Pas op vir dié wat verdeeldheid veroorsaak en die mense afvallig maak van die leer wat julle ontvang het. Bly weg van hulle af.

18. Sulke mense dien nie Christus ons Here nie, maar hulle eie drifte en drange, en met al hulle mooipraatjies en vleitaal mislei hulle die liggelowige mense.

19. Almal het gehoor van julle gehoorsaamheid aan die evangelie. Ek is baie bly oor julle, en ek sou graag wou sien dat julle alles weet van die goeie en niks wil weet van die slegte nie.

20. God wat vrede gee, sal die Satan spoedig onder julle voete verpletter. Die genade van ons Here Jesus is by julle!

21. My medewerker Timoteus stuur vir julle groete, en so ook Lucius, Jason en Sosipater, my volksgenote.

Romeine 16