13. Sisera het toe sy nege honderd strydwaens en al sy manskappe van Garoset-Gojim af laat kom na Kisonspruit toe.
14. Toe sê Debora vir Barak: “Trek op, want vandag gee die Here vir Sisera in jou mag oor. Die Here gaan voor jou uit.”Barak het toe van Taborberg af afgegaan, en die tien duisend man het hom gevolg.
15. Die Here het Sisera en sy strydwabemanning en sy hele leër baie bang laat word vir Barak en sy mag, en Sisera het van sy strydwa af afgespring en te voet gevlug.
16. Barak het die strydwaens en die leër agternagesit tot by Garoset-Gojim, en die hele leër van Sisera is afgemaai: daar het nie een van hulle oorgebly nie.
17. Sisera het te voet gevlug na die tent van Jael, die Keniet Geber se vrou, want koning Jabin van Hasor en die familie van Geber die Keniet het op goeie voet verkeer.
18. Jael het vir Sisera tegemoet gegaan en vir hom gesê: “Kom hierheen, Meneer! Kom na my toe, moenie bang wees nie!”Toe gaan hy na haar toe in die tent en sy het hom agter 'n gordyn weggesteek.
19. Hy sê toe vir haar: “Ek is dors, gee my 'n bietjie water om te drink.”Sy het die melksak oopgemaak en hom melk laat drink. Toe het sy hom weer toegemaak.
20. Hy het vir haar gesê: “Staan by die tentdeur, en as daar iemand kom wat vir jou vra: ‘Is hier dalk iemand by jou?’ moet jy vir hom sê: Nee!”
21. Jael die vrou van Geber het toe 'n tentpen gevat en met 'n hamer in haar hand is sy suutjies na Sisera toe. Hy was moeg en het vas geslaap. Toe slaan sy die tentpen deur die slaap van sy kop, sodat sy hom in die grond vasslaan, en so is hy dood.
22. Barak was besig om vir Sisera te agtervolg, en Jael het na Barak toe gegaan. Toe sê sy vir hom: “Kom hier! Ek sal vir jou die man wys wat jy soek.”Toe Barak by haar kom, lê Sisera daar dood met 'n tentpen deur sy slaap.