Rigters 20:25-31 Afrikaans 1983 (AFR83)

25. maar hulle het weer uit Gibea uit gestorm en agtien duisend man van Israel om die lewe gebring, almal goeie soldate.

26. Al die Israeliete en die hele leër is toe na Bet-El toe en daar het hulle in die teenwoordigheid van die Here gaan sit en huil, en daardie dag het hulle tot die aand toe niks geëet nie. Hulle het brandoffers en maaltydoffers aan die Here geoffer.

27. Hulle het die Here geraadpleeg; die verbondsark van die Here was destyds by hulle.

28. Pinehas, seun van Eleasar seun van Aäron, wat destyds as priester gedien het voor die Here, het gevra: “Moet ons weer gaan oorlog maak teen ons broers die Benjaminiete of moet ons ophou?”Toe antwoord die Here: “Trek op! Môre gee Ek hulle in julle mag.”

29. Van die Israeliete het toe rondom Gibea in hinderlae gaan lê.

30. Op die derde dag het die ander Israeliete teen Benjamin opgeruk en die manskappe regoor Gibea ontplooi soos die vorige kere.

31. Die Benjaminiete het die soldate tegemoet gestorm, maar die Benjaminiete is van hulle stad af weggelok. Soos die vorige kere het hulle die Israeliete verslaan en begin doodmaak op die grootpaaie na Bet-El en Gibea toe. Hulle het sowat dertig Israeliete om die lewe gebring.

Rigters 20