18. Hulle het na Bet-El toe gegaan en God daar geraadpleeg. Die Israeliete het gevra: “Wie van ons moet eerste optrek om teen Benjamin te gaan veg?”Die Here het geantwoord: “Juda moet eerste gaan.”
19. Die volgende môre het al die Israeliete klaargemaak en regoor Gibea kamp opgeslaan.
20. Die Israeliete het hulle manne teenoor Gibea ontplooi om teen die Benjaminiete te veg,
21. maar die Benjaminiete het uit Gibea gestorm en op daardie dag twee en twintig duisend Israeliete om die lewe gebring.
22-23. Nadat die Israeliete tot die aand toe in die teenwoordigheid van die Here gekla het, het hulle vir Hom gevra: “Moet ons weer teen ons broers die Benjaminiete gaan oorlog maak?”Die Here het geantwoord: “Trek teen hulle op!”Toe het die Israeliete moed geskep en weer hulle manne ontplooi om te veg waar hulle dit die vorige dag gedoen het.
24. Die tweede dag het die Israeliete weer die Benjaminiete aangeval,
25. maar hulle het weer uit Gibea uit gestorm en agtien duisend man van Israel om die lewe gebring, almal goeie soldate.