Rigters 15:1-11 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. 'n Ruk later, in die koringoestyd, het Simson vir sy vrou gaan kuier en 'n bokkie saamgevat. Hy het gesê: “Ek wil by my vrou gaan slaap.”Maar haar pa wou hom nie toelaat nie.

2. Haar pa het gesê: “Ek was doodseker dat jy haar nou haat, en daarom het ek haar vir jou strooijonker gegee. Haar jonger suster is mooier as sy. Jy kan haar kry in jou vrou se plek.”

3. Maar Simson sê vir hulle: “Hierdie keer het ek die Filistyne niks verkeerds aangedoen nie. Ek gaan 'n ramp oor hulle bring.”

4. Hy het toe drie honderd jakkalse gaan vang en hulle sterte twee-twee aan mekaar vasgemaak. Hy het fakkels gevat en tussen elke twee sterte 'n fakkel vasgemaak.

5. Hy het toe die fakkels aan die brand gesteek en die jakkalse tussen die graan van die Filistyne losgelaat. Hy het die miedens en die graan op die land aan die brand gesteek, ook die wingerde en die olyfboorde.

6. Toe die Filistyne vra: “Wie het dit gedoen?” is daar gesê: “Simson, die skoonseun van die man uit Timna, want hy het Simson se vrou met sy strooijonker laat trou.”Die Filistyne het toe gekom en haar en haar pa verbrand.

7. Simson het vir hulle gesê: “As dít is wat julle doen, sal ek nie ophou voordat ek my op julle gewreek het nie.”

8. Hy het hulle verwoed aangeval en 'n groot slagting aangerig. Toe het hy vertrek en in die rotskloof by Etam gaan woon.

9. Die Filistyne het in Juda gaan kamp opslaan en 'n strooptog teen Legi uitgevoer.

10. Toe vra die mense van Juda: “Waarom het julle teen ons opgetrek?” en die Filistyne antwoord: “Om vir Simson te vang en met hom te doen wat hy met ons gedoen het.”

11. Toe gaan drie duisend man van Juda na die rotskloof toe by Etam en hulle vra vir Simson: “Het jy nie besef dat die Filistyne oor ons heers nie? Wat het jy ons nou aangedoen?”Hy het hulle geantwoord: “Ek het die Filistyne net aangedoen wat hulle mý aangedoen het.”

Rigters 15