Rigters 11:13-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

13. Die koning van die Ammoniete het die boodskappers van Jefta geantwoord: “Toe die Israeliete uit Egipte weggetrek het, het hulle my land gevat, van die Arnon af tot by die Jabbok en die Jordaan. Gee dit nou in vrede terug.”

14. Jefta het toe weer boodskappers na die koning van die Ammoniete toe gestuur

15. om vir hom te sê: “So sê Jefta: Israel het nie die grond van die Moabiete en die grond van die Ammoniete gevat nie.

16. Toe Israel uit Egipte weggetrek het, het hy deur die woestyn getrek tot by die Rietsee, en toe het hy by Kades aangekom.

17. Daar het hy boodskappers na die koning van Edom toe gestuur en gevra: ‘Laat my asseblief deur jou land trek,’ maar hy het nie ingestem nie. Israel het dieselfde van die koning van Moab gevra, maar hy wou hulle nie toelaat nie. Israel het toe in Kades gebly.

18. Daarna het hy deur die woestyn getrek, by die gebied van Edom en dié van Moab verby en oos van Moab, noord van die Arnon, kamp opgeslaan. Hy het nie in die gebied van Moab gekom nie, want die Arnon is Moab se grens.

19. Toe het Israel boodskappers gestuur na koning Sihon van die Amoriete toe in Gesbon en vir hom gevra: ‘Laat my tog na my plek toe trek deur jou gebied.’

Rigters 11