Numeri 7:5-89 Afrikaans 1983 (AFR83)

5. “Vat hulle offergawes en gebruik dit in die diens van die tent van ontmoeting; gee dit aan die Leviete vir die werk wat elkeen van hulle moet verrig.”

6. Moses het die waens en osse ontvang en aan die Leviete gegee:

7-8. twee waens en vier osse aan die Gersongroep, vier waens en ag osse aan die Merarigroep. Hulle het dit ontvang vir hulle onderskeie take, onder toesig van Itamar seun van die priester Aäron.

9. Moses het nie waens en osse aan die Kehatgroep gegee nie, want hulle moes die gewyde voorwerpe op hulle skouers dra.

10. Die dag toe die altaar vir gebruik gesalf is, het die leiers hulle offergawes vir die inwyding na die altaar toe gebring.

11. Die Here het vir Moses gesê: “Op elke agtereenvolgende dag moet een van die leiers sy offergawes vir die inwyding van die altaar bring.”

84. Die offergawes wat die leiers van Israel gebring het toe die altaar ingewy is, was altesaam twaalf silwerskottels, twaalf silwerkomme en twaalf goue pannetjies.

85. Elke skottel het een en 'n half kilogram geweeg en elke kom ag honderd gram. Die silwer van al die gereedskap het ag en twintig kilogram geweeg volgens die standaardgewig van die heiligdom.

86. Die twaalf goue pannetjies vol wierook het elkeen honderd en vyftien gram geweeg volgens die standaardgewig van die heiligdom. Al die goud van die pannetjies was byna een en 'n half kilogram.

87. Daar was twaalf bulle, twaalf ramme, twaalf jaaroud lammers vir die brandoffer saam met hulle graanoffers en twaalf bokramme as sondeoffer.

88. Al die vee vir die maaltydoffers was vier en twintig bulle, sestig ramme, sestig bokramme en sestig jaaroud lammers. Dit was die offergawes vir die inwyding van die altaar nadat dit gesalf is.

89. Telkens wanneer Moses in die tent van ontmoeting ingegaan het om met die Here te praat, het hy die stem van die Here met hom hoor praat. Die stem het van die deksel af gekom tussen die twee gerubs uit, die deksel op die ark waarin die getuienis was. So het die Here met Moses gepraat.

Numeri 7