Numeri 35:17-27 Afrikaans 1983 (AFR83)

17. As iemand in sy hand 'n klip het wat groot genoeg is om 'n mens mee dood te maak, en hy slaan 'n ander daarmee dat hy sterf, is hy 'n moordenaar en moet hy beslis doodgemaak word.

18. As iemand in sy hand 'n stuk hout het wat groot genoeg is om 'n mens mee dood te maak, en hy slaan 'n ander dat hy sterf, is hy 'n moordenaar en moet hy beslis doodgemaak word.

19. 'n Bloedverwant van die oorledene moet die dood wreek en die moordenaar doodmaak waar hy hom ook al kry.

20. As iemand 'n ander uit haat stamp of hom doelbewus met iets gooi, sodat hy sterf

21. of hom uit vyandskap met die vuis slaan, sodat hy sterf, moet so iemand doodgemaak word; hy is 'n moordenaar. 'n Bloedverwant van die oorledene moet die dood wreek en die moordenaar doodmaak waar hy hom ook al kry.

22. “Maar as iemand sonder opset en sonder vyandskap 'n ander stamp of hom per ongeluk raakgooi

23. of as iemand sonder dat hy kyk 'n klip gooi wat die dood kan veroorsaak, en dit 'n ander tref, sodat hy sterf, en hy wat gegooi het, het dit nie uit vyandskap of met verkeerde bedoelings gedoen nie,

24. moet die bevoegde vergadering volgens hierdie bepalings uitspraak lewer tussen hom wat die dood veroorsaak het en die bloedverwant wat die dood wil wreek.

25. Die vergadering moet die beskuldigde bevry uit die mag van die bloedverwant en hom terugstuur na die asielstad toe waarheen hy gevlug het. Dáár moet hy bly totdat die hoëpriester, die man wat met gewyde olie gesalf is, gesterf het.

26. Maar as die een wat die dood veroorsaak het, hom waag buite die gebied van die asielstad waarheen hy gevlug het,

27. en die bloedverwant wat die dood wil wreek, loop hom raak, mag die bloedverwant hom doodmaak sonder om skuldig te wees aan moord.

Numeri 35