1. Toe die Here destyds met Moses op Sinaiberg gepraat het, het Aäron en Moses reeds afstammelinge gehad.
2. Die name van die seuns van Aäron was Nadab, die oudste, Abihu, Eleasar en Itamar.
3. Dit was die name van Aäron se seuns, gesalfde priesters, vir wie Moses in die priesteramp aangestel het.
4. Maar die Here het vir Nadab en Abihu laat sterwe omdat hulle in die Sinaiwoestyn ongeoorloofde vuur voor Hom neergesit het. Hulle het geen seuns gehad nie. Eleasar en Itamar het toe die priesterdiens verrig onder die toesig van Aäron, hulle pa.
5. Die Here het verder vir Moses gesê:
6. “Stel die stam Levi tot beskikking van die priester Aäron, dat hulle hom kan help.
7. Hulle moet vir Aäron in die gemeente diensbeurte waarneem in die tent van ontmoeting deur die werk wat hulle in die tabernakel doen.
8. Hulle moet sorg vir al die toebehore van die tent van ontmoeting; hulle moet die diensbeurte vir die volk Israel waarneem deur die werk wat hulle in die tabernakel doen.
9. Jy moet die Leviete tot beskikking van Aäron en sy seuns stel; uit die volk Israel is hulle die mense wat volkome aan Aäron se diens gewy is.
10. Net aan Aäron en sy seuns is dit opgedra om die priesterdiens te verrig; 'n onbevoegde persoon wat nader kom om dit te doen, moet doodgemaak word.”
11. Die Here het weer met Moses gepraat en gesê:
12. “Kyk, Ek het die Leviete uit die volk vir My geneem in die plek van al Israel se eersgeborenes; hulle behoort aan My.
13. Al die eersgeborenes is Myne: die dag toe Ek al die eersgeborenes van die Egiptenaars omgebring het, het Ek dié van Israel, van mens en dier, vir My opgeëis; hulle behoort aan My. Ek is die Here.”
14. Die Here het in die Sinaiwoestyn vir Moses gesê:
15. “Tel die Leviete volgens hulle afkoms en families, almal van 'n maand en ouer wat manlik is.”
16. Moses het hulle getel presies soos die Here hom beveel het.