3. Saam met die bul moet julle 'n graanoffer bring van vyf kilogram meel gemeng met olie, saam met die ram drie kilogram,
4. en saam met elk van die sewe lammers een en 'n half kilogram.
5. Julle moet ook nog 'n bokram as sondeoffer bring om vir julle versoening te doen.
6. Julle moet hierdie offers bring afgesien van die maandelikse en die gereelde brandoffer met die graanoffer en die drankoffers daarby. Dit is 'n vuuroffer wat deur die Here aanvaar word.”
7. “Op die tiende van die sewende maand moet daar vir julle 'n gewyde byeenkoms wees; dan moet julle julle verootmoedig en mag julle geen werk doen nie.
8. Julle moet as 'n brandoffer wat deur die Here aanvaar word, 'n jong bul, 'n ram en sewe jaaroud lammers bring, almal sonder liggaamsgebrek.
9. Saam met die bul moet julle 'n graanoffer bring van vyf kilogram meel gemeng met olie, saam met die ram drie kilogram,
10. en saam met elk van die sewe lammers een en 'n half kilogram.
11. Julle moet ook nog 'n bokram as sondeoffer bring afgesien van die sondeoffer vir julle versoening en die gereelde brandoffer met die graanoffer en die drankoffers daarby.”
12. “Op die vyftiende van die sewende maand moet daar vir julle 'n gewyde byeenkoms wees; dan mag julle geen gewone werk doen nie. Sewe dae lank moet julle die huttefees vier tot eer van die Here.
13. Julle moet as brandoffer, as vuuroffer wat deur die Here aanvaar word, dertien jong bulle, twee ramme en veertien jaaroud lammers bring, almal sonder liggaamsgebrek.
14. Saam met elk van die dertien bulle moet julle 'n graanoffer bring van vyf kilogram meel gemeng met olie, saam met elk van die twee ramme drie kilogram,
15. en saam met elk van die veertien lammers een en 'n half kilogram.
16. Julle moet ook nog 'n bokram as sondeoffer bring afgesien van die gereelde brandoffer met die graan- en die drankoffer daarby.
17. “Op die tweede dag van die fees moet julle twaalf jong bulle, twee ramme en veertien jaaroud lammers offer, almal sonder liggaamsgebrek,