Numeri 18:4-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

4. Hulle moet by jou aansluit en die diens by die tent van ontmoeting waarneem, al die werk by die tent. Iemand wat nie daartoe bevoeg is nie, mag nie saam met julle diens doen nie.

5. Net júlle mag die diens by die heiligdom en die altaar waarneem, sodat die toorn van die Here nie weer oor die Israeliete kom nie.

6. Ek het julle Levitiese ampsgenote uit die Israeliete afgesonder as my geskenk aan julle. Hulle behoort aan My vir die werk by die tent van ontmoeting.

7. Maar net jý en jou seuns mag as priesters diens doen en al die werk by die altaar en agter die voorhangsel verrig. Dat julle die priesterskap mag beklee, is 'n geskenk van My aan julle. 'n Onbevoegde persoon wat nader kom om die diens te verrig, moet doodgemaak word.”

8. Die Here het vir Aäron gesê: “Ek het jou aangestel om toesig te hou oor die offergawes wat vir My gebring word. Ek gee aan jou en jou seuns 'n deel van al die gewyde gawes wat deur die Israeliete gebring word. Dit is 'n vaste instelling.

9. Die deel van die besondere gewyde gawes wat nie verbrand word nie, kom jou toe. Dit geld van al die offergawes wat die Israeliete vir My bring as besondere gewyde gawes, of dit graanoffers, sondeoffers of skuldoffers is. Dit behoort aan jou en jou seuns.

10. Wanneer jy dit eet, moet jy onthou dat dit besondere gewyde gawes is. Elke manspersoon uit jou familie mag dit eet. Dit moet ook vir jóú gewyde gawes wees.

11. “Verder behoort elke offergawe wat die Israeliete as beweegoffer bring, aan jou. Ek gee dit vir jou en jou seuns en jou dogters. Dit is 'n vaste instelling. Elkeen in jou huis wat rein is, mag daarvan eet.

12. “Ek gee ook aan jou die beste van al die olie, die wyn en die koring wat deur die Israeliete uit hulle eerste opbrengs vir die Here gebring word.

13. Die eerste van alles wat hulle land oplewer en wat hulle vir die Here bring, is joune. Elkeen in jou huis wat rein is, mag daarvan eet.

14. Alles wat in Israel as banoffer aan die Here gewy word, is joune.

15. Elke eersgeborene van mens of dier wat vir die Here gebring word, is joune. Maar elke eersgebore seun en elke eersteling van 'n onrein dier moet jy loskoop.

Numeri 18