Numeri 14:32-45 Afrikaans 1983 (AFR83)

32. Maar julle lyke sal in hierdie woestyn bly lê.

33. Julle kinders sal veertig jaar lank in die woestyn rondtrek. Hulle sal die gevolge van julle ontrou moet dra totdat julle almal se lyke in die woestyn lê.

34. Julle het die land veertig dae lank verken. Julle sal veertig jaar, een jaar vir elke dag, die gevolge van julle ongeregtigheid moet dra. Dan sal julle besef wat dit beteken om My teen julle te hê.’

35. Ek, die Here, het dit gesê, Ek sal dit beslis doen aan hierdie slegte volk wat teen My saamgespan het: hulle sal in hierdie woestyn omkom en hier sterf.”

36. Die manne vir wie Moses gestuur het om die land te verken en wat ná hulle terugkoms die hele volk teen Moses in verset laat kom het deur die slegte gerug oor die land te versprei,

37. almal wat vir die slegte gerug oor die land verantwoordelik was, het gesterwe deur 'n plaag wat deur die Here gestuur is.

38. Van die manne wat die land gaan verken het, het net Josua seun van Nun, en Kaleb seun van Jefunne bly lewe.

39. Toe Moses vir al die Israeliete sê wat die Here gesê het, het die volk begin kerm en huil.

40. Hulle het toe die oggend vroeg klaargemaak en na die hoë Bergland toe begin trek. “Ons was verkeerd,” het hulle gesê, “ons wil nou optrek na die plek toe wat die Here beloof het.”

41. Maar Moses het gesê: “Waarom oortree julle die bevel van die Here? Julle sal nie die land verower nie.

42. Moenie gaan nie, want die Here is nie by julle nie. Julle sal deur julle vyande verslaan word,

43. want die Amalekiete en Kanaäniete sal julle daar inwag, en julle sal om die lewe gebring word. Die Here sal nie by julle wees nie, omdat julle van Hom af weggedraai het.”

44. Hulle was egter vermetel genoeg om tog na die hoë Bergland toe te begin trek. Maar Moses en die verbondsark van die Here het nie die kamp verlaat nie.

45. Die Amalekiete en Kanaäniete wat in daardie Bergland woon, het afgekom en hulle verslaan en uitmekaar gejaag tot by Gorma.

Numeri 14