21. Hulle het toe die land gaan verken, van die Sinwoestyn af tot by Regob, by Lebo-Hamat.
22. Hulle het deur die Suidland getrek en by Hebron gekom, waar Agiman, Sesai en Talmai, afstammelinge van Enak, gewoon het. Hebron is reeds sewe jaar voor die Egiptiese stad Soan gebou.
23. Toe hulle by Eskolspruit kom, het hulle daar 'n rank met een druiwetros afgesny. Twee van hulle het dit aan 'n stok gedra, saam met 'n paar granate en vye.
24. As gevolg van die tros wat die Israeliete daar afgesny het, het hulle die plek Eskolspruit genoem.
25. Nadat hulle die land veertig dae lank verken het, het hulle teruggegaan.
26. Die verkenners het toe by Moses en Aäron en die hele vergadering van die Israeliete by Kades in die Paranwoestyn aangekom. Daar het hulle aan Moses-hulle en aan die hele vergadering verslag gedoen en vir hulle die vrugte van die land gewys.