1. Toe die sewende maand aanbreek, was die Israeliete dus oral in die stede.
2. Die hele volk het soos een man bymekaargekom op die plein voor die Waterpoort en vir Esra die skrifgeleerde gevra om die wetboek van Moses waarin die bevele van die Here aan Israel opgeteken is, te bring.
3. Die priester Esra het toe die wet voor die gemeente gebring, man en vrou, elkeen wat kon verstaan. Dit was op die eerste dag van die sewende maand.
4. Hy het daaruit voorgelees op die plein voor die Waterpoort van ligdag af tot die middel van die dag ten aanhore van mans, vrouens en elkeen wat kon verstaan. Die aandag van die hele gemeente was by die wetboek.
5. Esra die skrifgeleerde het op 'n houtverhoog gestaan wat vir dié doel gemaak was; regs langs hom het Mattitja, Sema, Anaja, Urija, Gilkija en Maäseja gestaan, en links van hom Pedaja, Misael, Malkija, Gasum, Gasbaddana, Sagaria en Mesullam.