Nehemia 6:8-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

8. Ek het hom terug laat weet: “Niks van wat jy sê, is waar nie. Jy suig dit uit jou duim.”

9. Hulle het almal geprobeer om ons die skrik op die lyf te ja, met die gedagte: Hulle sal die werk laat staan en dit sal nie klaarkom nie.Sterk tog my hande, o God!

10. Ek het by Semaja seun van Delaja, seun van Mehetabel, gekom waar hy homself in sy huis toegesluit het. Hy het vir my gesê:“Kom ons ontmoet mekaar in die huis van God,binne-in die tempel,en laat ons dan die deure van die tempel sluit,want daar kom mense om jou dood te maak,hulle kom vannag om jou dood te maak.”

11. Ek het gesê: “Sal 'n man soos ek vlug, iemand soos ek tempel toe gaan om te kan bly lewe? Ek sal nie gaan nie!”

12. Ek het toe geweet dat God hom nie gestuur het nie, maar dat hy dié voorspelling teen my gemaak het omdat Tobija en Sanballat hom omgekoop het.

13. Hy is omgekoop om my bang te maak sodat ek 'n misstap sou begaan en hulle die geleentheid gee om my te beskinder en my naam sleg te maak.

14. My God, onthou wat Tobija en Sanballat gedoen het, en ook die profetes Noadja en die ander profete wat my wou bang maak.

15. Die muur is voltooi op die vyf en twintigste van die maand Elul, binne twee en vyftig dae.

16. Toe al ons vyande dit hoor, en die nasies rondom ons dit sien, was hulle selfversekerdheid daarmee heen. Hulle het toe geweet ons doen hierdie werk met die hulp van ons God.

17. In daardie selfde tyd het daar baie briewe van vooraanstaande Judese burgers na Tobija toe gegaan en briewe van hom af na hulle toe gekom.

18. Baie Judeërs het noue bande met hom gehad, want hy was die skoonseun van Sekanja seun van Arag, en sy seun Joganan was getroud met 'n dogter van Mesullam seun van Berekja.

19. Hulle het gedurig voor my gepraat van Tobija se goeie hoedanighede, en alles wat ek gesê het, aan hom oorgedra. Dan het hy briewe gestuur en my probeer bang praat.

Nehemia 6