Nehemia 10:30-36 Afrikaans 1983 (AFR83)

30. Verder het hulle onderneem:“Ons sal ons dogters nie met die heidenvolke laat trou nie en hulle dogters nie met ons seuns nie.

31. “Wanneer die heidene handelsware of graan op die sabbatdag bring om te verkoop, sal ons dit nie op die sabbat of op enige gewyde dag van hulle koop nie.“Ons sal die grond al om die sewende jaar onbewerk laat lê en alle skulde vryskeld.

32. “Ons aanvaar die verpligting om elkeen elke jaar vier gram goud by te dra vir die dienswerk in die huis van ons God:

33. vir die offerbrood, die gereelde graanoffer, die gereelde brandoffer, die offers op sabbatte, nuwemane, vasgestelde feestye en besondere gewyde dae, vir die sondeoffer om vir Israel versoening te doen, en vir al die werk in die huis van ons God.

34. “Ons, priesters, Leviete sowel as die ander mense, het geloot om te bepaal wanneer dit elke familie se beurt is om, op die vasgestelde tyd elke jaar, die heffing van brandhout vir die altaar van die Here ons God na die huis van ons God toe te bring soos dit in die wet voorgeskryf is.

35. “Ons sal die eerstelinge van ons gesaaides en die eerstelinge van al die vrugtebome elke jaar na die huis van die Here toe bring.

36. “Soos dit in die wet voorgeskryf is, sal ons ons eersgebore seuns en die eersgeborenes van ons vee, van ons beeste sowel as van ons kleinvee, na die priesters toe bring wat in die huis van ons God diens doen.

Nehemia 10