Matteus 28:10-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

10. Toe sê Jesus vir hulle: “Moenie bang wees nie. Gaan sê vir my broers hulle moet na Galilea toe gaan, en daar sal hulle My sien.”

11. Terwyl die vroue op pad was, kom party van die wagte in die stad aan en vertel vir die priesterhoofde alles wat gebeur het.

12. Die priesterhoofde het saam met die familiehoofde vergader en die volgende plan gemaak. Hulle het vir die soldate 'n groot som geld gegee

13. en gesê: “Julle moet sê: ‘Sy dissipels het in die nag gekom en sy liggaam gesteel terwyl ons geslaap het.’

14. En as die goewerneur daarvan hoor, sal ons hom tevrede stel en sorg dat julle nie bekommerd hoef te wees nie.”

15. Die wagte het toe die geld gevat en gemaak soos hulle voorgesê is.Hierdie storie word tot vandag toe onder die Jode vertel.

16. Die elf dissipels het na Galilea toe gegaan na die berg waarheen Jesus hulle beveel het om te gaan.

17. Toe hulle Hom sien, het hulle Hom aanbid, hoewel party getwyfel het.

18. Jesus kom toe nader en sê vir hulle: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde.

19. Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en

20. leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

Matteus 28