Matteus 27:29-36 Afrikaans 1983 (AFR83)

29. Hulle vleg 'n doringkroon en sit dit op sy kop en gee Hom 'n stok in sy regterhand. Toe bespot hulle Hom deur voor Hom te buig en te sê: “Ons groet u, Koning van die Jode!”

30. Hulle het op Hom gespoeg en die stok gevat en Hom oor die kop geslaan.

31. Nadat hulle Hom klaar bespot het, het hulle die mantel uitgetrek en weer sy eie klere vir Hom aangetrek. Toe lei hulle Hom weg om Hom te kruisig.

32. Toe hulle uitgaan, kry hulle 'n man van Sirene met die naam Simon, en hulle het hom gekommandeer om Jesus se kruis te dra.

33. Hulle kom toe by 'n plek wat Golgota genoem word; dit beteken Kopbeenplek.

34. Daar het hulle Hom 'n mengsel van wyn en gal gegee om te drink, maar toe Hy dit proe, wou Hy dit nie drink nie.

35. Hulle het Hom gekruisig en sy klere verdeel deur te loot.

36. Daarna het hulle gaan sit en by Hom wag gehou.

Matteus 27