Matteus 27:1-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Die môre vroeg het al die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk die besluit geneem om Jesus dood te maak.

2. Hulle het Hom geboei en Hom toe weggebring en aan Pilatus, die goewerneur, uitgelewer.

3. Toe Judas, die verraaier, sien dat Jesus tot die dood veroordeel is, het hy spyt gekry. Hy het die dertig silwermuntstukke teruggebring na die priesterhoofde en die familiehoofde toe

4. en vir hulle gesê: “Ek het gesondig. Ek het 'n onskuldige man verraai.”Maar hulle antwoord: “Wat het ons daarmee te doen? Dit is jou saak!”

5. Judas het toe die geld in die tempel in gegooi, weggeloop en homself gaan ophang.

6. Die priesterhoofde het die geld opgetel en gesê: “Dit is nie geoorloof om dit in die tempelfonds te stort nie, want dit is bloedgeld.”

7. Hulle besluit toe om daarmee die grond van die pottebakker te koop as 'n begraafplaas vir vreemdelinge.

8. Daardie stuk grond word tot vandag toe nog Bloedgrond genoem.

9. Toe is die woord vervul wat die Here deur die profeet Jeremia gesê het:“En hulle het die dertig silwermuntstukke geneem, dit is die prys wat die Israeliete ooreengekom het om vir hom te betaal,

10. en hulle het dit uitbetaal vir die grond van die pottebakker. So het die Here dit aan my opgedra.”

11. Jesus is voor die goewerneur gebring en dié vra Hom: “Is jy die koning van die Jode?”Jesus antwoord: “Dit is soos u sê.”

12. Op die beskuldigings van die priesterhoofde en die familiehoofde het Hy niks geantwoord nie.

13. Toe sê Pilatus vir Hom: “Hoor jy nie waarvan hulle jou alles beskuldig nie?”

14. Maar Jesus het hom op geen enkele woord 'n antwoord gegee nie, sodat die goewerneur baie verbaas was.

15. Die goewerneur het die gewoonte gehad om elke paasfees vir die mense een gevangene van hulle eie keuse los te laat.

16. In daardie tyd was daar 'n berugte gevangene met die naam Jesus Barabbas.

17. Aangesien die mense tog bymekaar was, het Pilatus hulle gevra: “Wie wil julle hê moet ek vir julle loslaat: Jesus Barabbas of Jesus wat Christus genoem word?”

18. Hy het geweet dat die priesterhoofde Hom uit afguns uitgelewer het.

19. Terwyl Pilatus op die regbank sit, het sy vrou vir hom 'n boodskap gestuur: “Moet tog niks met daardie onskuldige man te doen hê nie, want ek het vannag 'n vreeslike droom oor hom gehad.”

Matteus 27