Matteus 25:1-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. “Dan sal dit met die koninkryk van die hemel gaan soos met tien meisies wat hulle lampe gevat het om die bruidegom te gaan inwag.

2. Vyf van hulle was onverstandig en vyf verstandig.

3. Die onverstandiges het hulle lampe gevat maar nie ekstra olie met hulle saamgevat nie,

4. terwyl die verstandiges saam met hulle lampe ook nog olie in houers gevat het.

5. Toe die bruidegom lank wegbly, het hulle almal vaak geword en aan die slaap geraak.

6. “In die middel van die nag was daar 'n geroep: ‘Hier kom die bruidegom! Gaan hom tegemoet!’

7. Toe staan al die meisies op en maak hulle lampe reg.

8. Die onverstandiges sê toe vir die verstandiges: ‘Gee vir ons van julle olie, want ons lampe gaan dood.’

9. Maar die verstandiges antwoord: ‘Nee, daar is nie genoeg vir ons en vir julle nie. Gaan liewer winkel toe en koop vir julle olie.’

10. “Terwyl die onverstandiges olie gaan koop het, het die bruidegom gekom. Dié wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof toe, en die deur is gesluit.

11. “Later kom die ander meisies ook daar aan en roep: ‘Meneer, Meneer, maak vir ons oop!’

12. Maar die bruidegom antwoord: ‘Ek sê vir julle: Ek ken julle nie!’

13. “Waak dan, omdat julle nie weet op watter dag en uur dit sal gebeur nie.”

14. “Verder gaan dit soos met 'n man wat op reis wou gaan. Hy het sy slawe bymekaargeroep en sy besittings aan hulle toevertrou.

15. Vir een het hy vyf goue muntstukke gegee, vir 'n ander twee, en vir 'n derde een. Hy het aan elkeen volgens sy bekwaamheid gegee en toe op reis gegaan.

Matteus 25