16. Hulle stuur toe van hulle volgelinge saam met 'n aantal Herodiane om vir Hom te sê: “Meneer, ons weet dat u iemand is wat u mening eerlik uitspreek en getrou aan die waarheid die wil van God bekend maak sonder om mense in aanmerking te neem, want u let nie op die aansien van persone nie.
17. Sê vir ons wat dink u: Is dit reg om aan die keiser belasting te betaal, of is dit nie?”
18. Maar Jesus het deur hulle valsheid gesien en vir hulle gesê: “Huigelaars! Waarom stel julle vir My 'n strik?
19. Wys vir My die muntstuk waarmee die belasting betaal word.”Hulle bring toe die muntstuk vir Hom,
20. en Hy vra vir hulle: “Wie se kop en naam is hierop?”
21. “Die keiser s'n,” antwoord hulle.Jesus sê vir hulle: “Gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort.”
22. Toe hulle dit hoor, was hulle verbaas en het hulle Hom met rus gelaat en weggegaan.
23. Op dieselfde dag het daar Sadduseërs by Jesus gekom. Dit is hulle wat beweer dat daar nie 'n opstanding is nie. Hulle vra Hom toe:
24. “Meneer, Moses het gesê: ‘As iemand sterwe sonder om kinders te hê, moet sy broer met die weduwee trou en 'n nageslag vir sy broer verwek.’
25. Nou was daar by ons sewe broers. Die oudste het getrou en gesterwe. Omdat daar nie kinders was nie, het sy broer met die weduwee getrou.
26. Dieselfde het gebeur met die tweede en die derde broer en uiteindelik met al sewe.
27. En heel laaste van almal het die vrou ook gesterwe.