11. “Toe die koning ingaan om na die gaste te kyk, sien hy daar 'n man wat nie bruilofsklere aanhet nie,
12. en hy sê vir hom: ‘Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder bruilofsklere aan?’ Maar die man kon niks antwoord nie.
13. Toe sê die koning vir sy dienaars: ‘Bind sy hande en sy voete vas en gooi hom uit in die diepste duisternis daarbuite. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.’
14. “Baie is immers geroep, maar min is uitverkies.”
15. Toe het die Fariseërs gaan besluit om Jesus met 'n vraag in 'n val te lok.
16. Hulle stuur toe van hulle volgelinge saam met 'n aantal Herodiane om vir Hom te sê: “Meneer, ons weet dat u iemand is wat u mening eerlik uitspreek en getrou aan die waarheid die wil van God bekend maak sonder om mense in aanmerking te neem, want u let nie op die aansien van persone nie.
17. Sê vir ons wat dink u: Is dit reg om aan die keiser belasting te betaal, of is dit nie?”