Matteus 20:15-23 Afrikaans 1983 (AFR83)

15. Mag ek dan nie met my geld maak wat ek wil nie? Of is jy afgunstig omdat ek goed is?’

16. “So sal die laastes eerste wees, en die eerstes laaste.”

17. Terwyl Jesus na Jerusalem toe op pad was, neem Hy die twaalf dissipels opsy, en so in die loop sê Hy vir hulle:

18. “Kyk, ons gaan nou Jerusalem toe. Daar sal die Seun van die mens aan die priesterhoofde en skrifgeleerdes oorgelewer word, en hulle sal Hom tot die dood veroordeel.

19. Hulle sal Hom uitlewer aan die heidene, wat Hom sal bespot en gesel en kruisig. En op die derde dag sal Hy uit die dood opgewek word.”

20. Toe kom die vrou van Sebedeus met haar twee seuns by Jesus en kniel voor Hom om Hom 'n guns te vra.

21. “Wat kan Ek vir u doen?” vra Hy vir haar.Sy sê vir Hom: “Belowe my dat hierdie twee seuns van my in u koninkryk langs U mag sit, een aan u regterhand en die ander een aan u linkerhand.”

22. Toe antwoord Jesus: “Julle weet nie wat julle vra nie. Kan julle die lydensbeker drink wat Ek gaan drink?”“Ons kan,” antwoord hulle.

23. Jesus sê toe vir hulle: “Ja, my beker sal julle drink. Maar om aan my regter- en my linkerhand te sit, daaroor besluit Ek nie; dit is vir dié vir wie my Vader dit gereed gemaak het.”

Matteus 20