11. Herodes en sy soldate het Hom toe met veragting behandel. Hy het Hom 'n deftige kleed laat omhang, met Hom die spot gedryf en Hom daarna na Pilatus toe teruggestuur.
12. Op daardie dag het Herodes en Pilatus vriende geword. Voorheen was daar kwaaivriendskap tussen hulle.
13. Daarna het Pilatus die priesterhoofde, die lede van die Joodse Raad en die volk bymekaar geroep
14. en vir hulle gesê: “Julle het hierdie man voor my gebring as 'n opruier van die volk. Nou het ek in julle teenwoordigheid die saak ondersoek, en ek het in hierdie man geen grond gevind vir die aanklag wat julle teen hom inbring nie.
15. Herodes het ook nie, want hy het hom na ons toe teruggestuur. Hy het beslis niks gedoen wat die dood verdien nie.
16. Ek sal hom dus laat gesel en dan loslaat.”
18. Maar soos een man het hulle geskreeu: “Weg met hom!
19. Laat Barabbas vir ons los!”Barabbas was in die tronk oor 'n opstand in die stad en oor moord.
20. Omdat Pilatus vir Jesus wou loslaat, het hy weer met hulle gepraat,
21. maar hulle het aanhoudend uitgeroep: “Kruisig, kruisig hom!”
22. Die derde keer sê Pilatus vir hulle: “Watter kwaad het die man gedoen? Ek het in hom niks gekry wat die doodstraf regverdig nie. Ek sal hom dus laat gesel en dan loslaat.”
23. Hulle het egter met 'n harde geskreeu aangehou om te eis dat Jesus gekruisig moes word, en met hulle geskreeu het hulle die oorhand gekry.
24. Pilatus het toe besluit dat aan hulle eis voldoen moes word.
25. Die man wat oor opstand en moord in die tronk was, het hy vrygelaat, soos hulle geëis het, maar vir Jesus het hy uitgelewer, soos hulle wou hê.
26. Terwyl hulle Hom weglei, gryp hulle 'n sekere Simon van Sirene, wat toe net van buite die stad af gekom het, en sit die kruis op hom om dit agter Jesus aan te dra.