Levitikus 26:17-25 Afrikaans 1983 (AFR83)

17. Ek sal my rug vir julle draai sodat julle deur julle vyande verpletter sal word. Julle haters sal dit vir julle so ondraaglik maak dat julle sal vlug al word julle nie agtervolg nie.

18. “As julle ná al hierdie dinge nog nie na My luister nie, sal Ek julle nog swaarder straf oor julle sondes:

19. Ek sal alles waarop julle staatmaak, laat verdwyn. Daar sal geen druppel reën val nie: dit sal wees asof die hemel van yster en die grond van brons is.

20. Julle sal julle kragte tevergeefs inspan: daar sal geen oes op julle lande wees nie, en julle bome sal geen vrugte dra nie.

21. “As julle My bly teenstaan en nie na My wil luister nie, sal Ek julle nóg swaarder straf, soos julle verdien oor julle sondes:

22. Ek sal roofdiere tussen julle loslaat, en hulle sal julle kinders vang en julle veetroppe uitroei. Hulle sal julle só uitdun dat die paaie verlate sal wees.

23. “As dit julle nie tot ander insigte bring nie en julle My nog bly teenstaan,

24. sal Ek júlle ook teenstaan. Ek sal julle nog swaarder straf oor julle sondes:

25. Ek sal 'n oorlog oor julle bring. Dit sal die wraak wees oor julle ontrou aan my verbond. As julle veiligheid soek in julle stede, sal Ek pes onder julle loslaat sodat julle sal móét oorgee.

Levitikus 26