Levitikus 21:12-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

12. Hy mag nie die heiligdom verlaat met die oog op 'n sterfgeval nie, want hy kan dalk die heiligdom van sy God ontwy. As hoëpriester is hy met olie gesalf en dra hy die wydingsteken van sy God. Ek is die Here.

13. Die hoëpriester mag net met 'n maagd trou.

14. Met 'n weduwee, 'n geskeide vrou, 'n vrou wat nie meer 'n maagd is nie, of met 'n prostituut, mag hy nie trou nie. Hy mag alleen met 'n maagd uit sy eie stam trou,

15. anders is sy nageslag ontwy. Ek, die Here, het hom geheilig.”

16. Die Here het Moses ook beveel:

17. “Sê vir Aäron: Geeneen van jou nakomelinge met 'n liggaamlike tekortkoming mag ooit 'n offer aan God bring nie.

18. Geen persoon wat 'n liggaamlike tekortkoming het, mag offer nie: geen blinde of kreupele of iemand met 'n misvormde gesig of liggaamsdeel,

19. of met 'n gebreekte voet of hand,

20. of met 'n boggel of 'n onderontwikkelde liggaam, of met 'n pêrel op die oog, of met skurfte of veluitslag, of 'n beskadigde geslagsdeel nie.

21. Geen persoon uit die priestergeslag mag dus in die heiligdom ingaan om te offer as hy 'n liggaamlike tekortkoming het nie. Hy mag nie 'n offer vir die Here sy God bring as hy 'n liggaamlike tekortkoming het nie.

Levitikus 21