7. Daarna het Josua gesê: “Ag, Here, waarom het U eintlik hierdie volk oor die Jordaan gebring? Om ons in die mag van die Amoriete oor te gee dat hulle ons kan uitroei? Het ons tog maar liewer oorkant die Jordaan gebly!
8. Here, wat moet ek sê noudat Israel vir sy vyande moes vlug?
9. Die Kanaäniete en al die inwoners van die land sal daarvan hoor en ons omsingel en alle gedagtenis aan ons uit die land uitroei! Wat sal U dán doen om die grootheid van u Naam te verseker?”
10. Toe sê die Here vir Josua: “Staan op. Hoekom lê jy met jou gesig in die grond?
11. Israel het gesondig en my verbond wat Ek hulle opgelê het, verbreek. Hulle het van die goed wat aan My gewy is, gevat, hulle het gesteel, hulle het gelieg en van die goed by hulle s'n gesit.
12. Daarom kan die Israeliete nie teen hulle vyande staande bly nie; hulle vlug vir hulle vyande omdat hulle nou self mense geword het wat vernietig moet word. As julle nie al die gewyde goed tussen julle verwyder nie, sal Ek nie meer by julle bly nie.