26. Hy het dié dinge in die wetboek van God opgeskryf, 'n groot klip gevat en dit daar onder 'n groot boom by die heiligdom van die Here regop gesit.
27. Hy het vir die hele volk gesê: “Sien julle dié klip? Hy sal die getuie teen ons wees. Hy het alles gehoor wat die Here vir ons gesê het. Hy sal die getuie teen julle wees dat julle nie julle God bedrieg nie.”
28. Daarna het Josua die volk laat gaan, elkeen na sy grond toe.
29. Na hierdie gebeure het Josua seun van Nun, dienaar van die Here, gesterf. Hy was honderd en tien jaar.
30. Hy is begrawe in die gebied wat aan hom gegee was as besitting, in Timnat-Serag in die Efraimsberge, noord van Gaäsberg.