Josua 22:9-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

9. Die stamme Ruben en Gad en die halwe Manassestam is toe van die Israeliete in Silo in Kanaän af weg om na Gilead toe te gaan, na hulle eie gebied wat in besit geneem is op die bevel van die Here deur Moses.

10. Toe hulle by Gelilot aan die Jordaan in Kanaän kom, bou hulle daar by die Jordaan 'n altaar, 'n groot indrukwekkende altaar.

11. Die Israeliete het gehoor dat die stamme Ruben en Gad en die halwe Manassestam die altaar gebou het en dat dit teenaan Kanaän by Gelilot aan die Jordaan was, aan die Israeliete se kant.

12. Toe het die hele Israelitiese volksvergadering in Silo bymekaargekom, gereed om oorlog te maak teen die twee stamme en die halwe stam.

13. Die Israeliete het vir Pinehas seun van die priester Eleasar na die stamme Ruben en Gad en die halwe Manassestam in Gilead gestuur.

14. Saam met Pinehas was daar tien volksleiers, een vir elke stam van Israel, elkeen 'n hoof van 'n Israelitiese familiegroep.

15. Toe hulle by die stamme in Gilead kom, sê hulle vir die stamme:

16. “So sê die hele volksvergadering van die Here: Hoe kon julle dié daad van ontrou begaan teen die God van Israel? Julle het mos nou die Here verlaat toe julle die altaar gebou het! Julle is nou in verset teen Hom!

17. Was ons sonde by Peor nie erg genoeg nie? Tot vandag toe is ons nie daarvan gereinig nie, ten spyte van die plaag wat die volk van die Here getref het.

18. Vandag verlaat julle die Here en kom julle in verset teen Hom, môre breek sy toorn los teen die hele Israel.

Josua 22