1. Josua was al baie oud. Die Here het vir hom gesê: “Jy is al baie oud, en daar is nog 'n baie groot deel van die land wat in besit geneem moet word.
2. “Onder die deel wat oorbly, is daar al die Filistynse gebiede en die hele Gesurgebied.
3. Die gebied van die Sigor af teen Egipte tot by die Ekrongebied in die noorde word as Kanaänitiese gebied beskou. Dit is die gebiede van die vyf Filistynse regeerders, dié van Gasa, Asdod, Askelon, Gat en Ekron, en dit sluit die gebied van die Awwiete in.
6. “Ek sal al die bewoners van die bergwêreld verdryf om vir die Israeliete plek te maak, van die Libanon af tot by Misrefot-Majim, al die Sidoniërs. Intussen moet jy hierdie gebiede as besitting aan Israel toewys soos Ek jou beveel het.
7. Verdeel dus nou die land vir die nege stamme en die halwe Manassestam.”
8. Saam met die ander helfte van die Manassestam het die stamme Ruben en Gad reeds hulle besitting ontvang wat Moses aan hulle toegeken het oorkant die Jordaan, aan die oostekant. Moses, die dienaar van die Here, het die volgende gebied aan hulle toegeken:
9. van Aroër af op die oewer van die Arnonrivier, die stad aan die rivier, die hele Medebahoogvlakte tot by Dibon,
10. al die stede van die Amoritiese koning Sihon wat in Gesbon geregeer het, tot aan die Ammonitiese grens,
11. Gilead met die gebiede Gesur en Maäka, die hele Hermonberg en die hele Basan tot by Salka
12. met insluiting van die hele koninkryk van Og in Basan wat in Astarot en Edreï geregeer het. Og was een van die laaste Refaïete. Moses het hulle verslaan en verdryf.
13. Die Israeliete het egter nie die mense van Gesur en Maäka verdryf nie, en hulle woon nou nog tussen die Israeliete.