50. Ek soek egter nie na eer vir Myself nie; daar is Een wat eer vir My soek, en Hy is regter.
51. Dít verseker Ek julle: As iemand my woorde ter harte neem, sal hy in alle ewigheid nooit sterwe nie.”
52. Die Jode sê toe vir Hom: “Nou is ons seker dat jy van die duiwel besete is. Abraham het gesterwe en die profete ook, en tog sê jy: ‘As iemand my woorde ter harte neem, sal hy in alle ewigheid nooit sterwe nie.’
53. Jy is tog nie groter as ons voorvader Abraham wat gesterf het nie? En die profete het gesterwe. Wie verbeel jy jou is jy?”
54. Maar Jesus antwoord: “As Ek Myself verheerlik, beteken my heerlikheid niks. Dit is my Vader wat My verheerlik. Julle sê: ‘Hy is ons God,’
55. en tog ken julle Hom nie. Maar Ek ken Hom. As Ek sê Ek ken Hom nie, sal Ek net soos julle 'n leuenaar wees. Maar Ek ken Hom, en Ek neem sy woorde ter harte.
56. Abraham, julle voorvader, het hom daaroor verheug dat hy die dag van my koms sou sien, en hy het dit gesien en was bly.”
57. Die Jode sê toe vir Hom: “Jy is nog nie eens vyftig jaar oud nie, en het jy vir Abraham gesien?”