Johannes 8:24-32 Afrikaans 1983 (AFR83)

24. Daarom het Ek vir julle gesê julle sal in julle sondes sterwe, want as julle nie glo dat Ek is wat Ek is nie, sal julle in julle sondes sterwe.”

25. Hulle vra Hom toe: “Wie is jy?”Jesus het hulle geantwoord: “Waarom praat Ek eintlik nog met julle?

26. Ek kan baie dinge oor julle sê en 'n oordeel oor julle uitspreek; maar Hy wat My gestuur het, is geloofwaardig, en net wat Ek by Hom gehoor het, sê Ek vir die wêreld.”

27. Hulle het nie begryp dat Hy met hulle van die Vader gepraat het nie.

28. Daarna sê Jesus vir hulle: “Eers wanneer julle die Seun van die mens verhoog het, sal julle begryp dat Ek is wat Ek is, en dat Ek niks uit my eie doen nie, maar net verkondig wat die Vader My geleer het.

29. Hy wat My gestuur het, is by My. Hy het My nie alleen gelaat nie, omdat Ek altyd doen wat Hy wil.”

30. Terwyl Hy hierdie dinge gesê het, het daar baie mense tot geloof in Hom gekom.

31. Toe sê Jesus vir die Jode wat in Hom glo: “As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels;

32. en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak.”

Johannes 8