Johannes 7:39-48 Afrikaans 1983 (AFR83)

39. Hiermee het Hy na die Gees verwys, want die mense wat tot geloof in Hom kom, sou die Gees ontvang. Die Gees was nog nie uitgestort nie, omdat Jesus toe nog nie verheerlik was nie.

40. Party van die mense wat hierdie woorde gehoor het, het gesê: “Hy is werklik die Profeet.”

41. Party het gesê: “Hy is die Christus.”Maar party het gesê: “Die Christus kom tog nie uit Galilea nie?

42. Die Skrif sê mos die Christus kom uit die nageslag van Dawid en uit Betlehem, die dorp waar Dawid was.”

43. Daar het toe verdeeldheid oor Hom onder die mense gekom.

44. Party van hulle wou Hom gevange neem, maar niemand het dit gedoen nie.

45. Daarna het die wagte na die priesterhoofde en die Fariseërs toe teruggegaan, en dié het vir hulle gevra:“Waarom het julle hom nie gebring nie?”

46. Die wagte het geantwoord: “Nog nooit het iemand gepraat soos hierdie man nie.”

47. Die Fariseërs sê toe vir hulle: “Is julle tog nie ook mislei nie?

48. Het een van die lede van die Joodse Raad miskien in hom geglo, of een van die Fariseërs?

Johannes 7