32. Daar is ook Iemand anders wat oor My getuig, en Ek weet dat die getuienis wat Hy oor My aflê, waar is.
33. “Julle het 'n afvaardiging na Johannes toe gestuur, en wat hy getuig het, is die waarheid.
34. Nie dat Ek op die getuienis van 'n mens steun nie, maar Ek noem dit sodat julle gered kan word.
35. Hy was die lamp wat gebrand en geskyn het, en julle was gewillig om julle 'n rukkie in sy lig te verheug.
36. “Maar Ek het getuienis wat nog gewigtiger is as dié van Johannes. Die werk wat die Vader My gegee het om te voltooi en waarmee Ek nou juis besig is, lê oor My getuienis af en bevestig dat die Vader My gestuur het.
37. En die Vader wat My gestuur het, het ook oor My getuienis afgelê. Sy stem het julle nog nooit gehoor nie en sy gestalte ook nie gesien nie.
38. En sy woord lewe nie werklik in julle nie, omdat julle nie in die Een glo wat Hy gestuur het nie.
39. Julle ondersoek die Skrif, omdat julle dink dat julle die ewige lewe daarin kry. En dit is juis die Skrif wat oor My getuig.
40. Tog wil julle nie na My toe kom sodat julle die lewe kan kry nie.
41. “Ek is nie gesteld op die eer wat mense bewys nie,
42. maar Ek ken julle en Ek weet dat julle nie liefde vir God in julle het nie.
43. Ek het in die Naam van my Vader gekom, en tog aanvaar julle My nie. As iemand anders in sy eie naam kom, sal julle hom aanvaar.
44. Hoe kan julle ook in My glo terwyl julle gesteld is op die eer wat julle van mekaar ontvang en nie die eer soek wat van die enigste God af kom nie?
45. Moenie dink dat Ek julle by die Vader sal aankla nie; dit is Moses, op wie julle julle hoop gevestig het, wat vir julle aankla.
46. As julle Moses geglo het, sou julle in My geglo het, want hy het van My geskrywe.
47. Maar as julle sy geskrifte nie glo nie, hoe sal julle my woorde glo?”