27. Hy het Hom ook volmag gegee om te oordeel, omdat Hy die Seun van die mens is.
28. Moenie hieroor verbaas wees nie: daar kom 'n tyd wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor
29. en sal uitgaan. Dié wat goed gedoen het, sal opstaan en lewe, en dié wat verkeerd gedoen het, sal opstaan en veroordeel word.”
30. “Uit my eie kan Ek niks doen nie: Ek oordeel soos Ek dit van die Vader hoor, en my oordeel is regverdig, omdat dit nie my wil is wat Ek nastrewe nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het.
31. “As net Ek oor Myself getuig, is my getuienis nie geldig nie.
32. Daar is ook Iemand anders wat oor My getuig, en Ek weet dat die getuienis wat Hy oor My aflê, waar is.
33. “Julle het 'n afvaardiging na Johannes toe gestuur, en wat hy getuig het, is die waarheid.
34. Nie dat Ek op die getuienis van 'n mens steun nie, maar Ek noem dit sodat julle gered kan word.
35. Hy was die lamp wat gebrand en geskyn het, en julle was gewillig om julle 'n rukkie in sy lig te verheug.
36. “Maar Ek het getuienis wat nog gewigtiger is as dié van Johannes. Die werk wat die Vader My gegee het om te voltooi en waarmee Ek nou juis besig is, lê oor My getuienis af en bevestig dat die Vader My gestuur het.
37. En die Vader wat My gestuur het, het ook oor My getuienis afgelê. Sy stem het julle nog nooit gehoor nie en sy gestalte ook nie gesien nie.
38. En sy woord lewe nie werklik in julle nie, omdat julle nie in die Een glo wat Hy gestuur het nie.
39. Julle ondersoek die Skrif, omdat julle dink dat julle die ewige lewe daarin kry. En dit is juis die Skrif wat oor My getuig.
40. Tog wil julle nie na My toe kom sodat julle die lewe kan kry nie.