9. Nikodemus vra Hom toe: “Maar hoe is dit moontlik?”
10. En Jesus antwoord hom: “Jy is die bekende leermeester van Israel en jy verstaan dit nie?
11. Dit verseker Ek jou: Ons praat oor wat ons weet, en ons getuig oor wat ons gesien het, en tog aanvaar julle nie ons getuienis nie.
12. Ek het julle van die aardse dinge vertel en julle glo dit nie, hoe sal julle glo as Ek vir julle van die hemelse vertel?
13. Niemand op die aarde was al in die hemel nie behalwe Hy wat uit die hemel gekom het, naamlik die Seun van die mens.
14. Moses het die slang in die woestyn hoog op 'n paal gesit; so moet die Seun van die mens verhoog word,
15. sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê.
16. “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.
17. God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word.
18. Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie.
19. En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg.
20. Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie.
21. Maar wie volgens die waarheid handel, kom na die lig toe, sodat dit duidelik kan blyk dat sy dade in gehoorsaamheid aan God gedoen is.”
22. Hierna het Jesus en sy dissipels na die platteland van Judea toe gegaan. Hulle het 'n rukkie daar gebly en mense gedoop.
23. Johannes was ook besig om te doop, by Enon naby Salim, waar daar baie water was. Die mense het na hom toe gekom en is deur hom gedoop.
24. Johannes was nog nie in die tronk gesit nie.