Johannes 12:3-23 Afrikaans 1983 (AFR83)

3. Toe het Maria 'n halfliter egte, baie duur nardusolie gebring en dit op Jesus se voete uitgegiet en sy voete met haar hare afgedroog. Die hele huis is deurtrek met die geur van die reukolie.

4. Judas Iskariot, een van sy dissipels, die een wat Hom sou verraai, sê toe:

5. “Waarom is hierdie reukolie nie vir drie honderd silwermuntstukke verkoop en die geld vir die armes gegee nie?”

6. Dit het hy gesê, nie omdat hy hom oor die armes bekommer het nie, maar omdat hy 'n dief was. Hy het die beursie gehad en het van die bydraes gevat.

7. Toe sê Jesus: “Laat staan haar. Sy moes dit hou vir hierdie dag om My te salf vir my begrafnis.

8. Die armes het julle tog altyd by julle, maar vir My het julle nie altyd nie.”

9. Baie van die Jode het verneem dat Jesus daar is en het daarheen gekom, nie net ter wille van Jesus nie, maar ook om vir Lasarus te sien wat Hy uit die dood opgewek het.

10. Die priesterhoofde het toe besluit om ook vir Lasarus dood te maak,

11. omdat baie van die Jode deur hom na Jesus toe oorgeloop en in Hom geglo het.

12. Die volgende dag het die groot menigte mense wat na die fees toe gekom het, gehoor dat Jesus na Jerusalem toe kom.

13. Hulle het palmtakke gevat en Hom tegemoet gegaan en uitgeroep:“Prys Hom!Loof Hom wat in die Naamvan die Here kom!”en:“Die Koning van Israel!”

14. Jesus het toe op 'n jong donkie geklim wat Hy daar gekry het, soos daar geskrywe staan:

15. “Moenie bang wees nie, Sion!Kyk, jou Koning kom,en Hy ry op 'n donkie.”

16. Jesus se dissipels het hierdie dinge eers nie verstaan nie, maar nadat Hy verheerlik is, het hulle daaraan gedink dat wat daar geskrywe staan, op Hom betrekking gehad het en dat dit met Hom gebeur het.

17. Die mense wat by Jesus was toe Hy vir Lasarus uit die graf geroep en hom uit die dood opgewek het, het gedurig daaroor gepraat.

18. Daarom het die menigte vir Jesus tegemoet gegaan: hulle het gehoor dat Hy hierdie wonderteken gedoen het.

19. Die Fariseërs het toe vir mekaar gesê: “Sien julle, julle rig niks uit nie! Kyk, die hele wêreld gaan agter hom aan!”

20. Daar was ook 'n aantal Grieke onder die mense wat fees toe gekom het om te aanbid.

21. Hulle het na Filippus, wat van Betsaida in Galilea afkomstig was, gegaan en vir hom gevra: “Meneer, ons wil Jesus graag ontmoet.”

22. Filippus het gegaan en dit vir Andreas vertel. Andreas en Filippus gaan toe en sê dit vir Jesus.

23. Daarop sê Jesus vir hulle: “Die tyd het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word.

Johannes 12