15. Toe het hy tot die Here gebid:
16. “Here, Almagtige, God van Israel,U wat oor die gerubs troon,U alleen is God oor al die koninkryke van die aarde,U het die hemel en die aarde gemaak.
17. Hoor tog, Here, luister,kyk tog, Here, let tog op!“Hoor tog wat Sanherib gesê het; hy het U, die lewende God, in sy boodskap gesmaad!
18. Dit is waar, Here, die konings van Assirië het nasies met lande en al verwoes
19. en hulle gode verbrand, maar dit was nie gode nie, dit was die werk van mensehande, hout en klip; daarom is hulle vernietig.
20. Here ons God, red ons tog uit die mag van die Assiriese koning. Dan sal al die koninkryke van die aarde besef dat net U, Here, God is.”
21. Jesaja seun van Amos het vir Hiskia 'n boodskap gestuur: “So sê die Here die God van Israel: Ek het jou gebed oor koning Sanherib van Assirië verhoor.
22. “Dit is wat die Here oor Sanherib sê:Sion verag jou en lag jou uit,Jerusalem kyk jou met minagting agterna.
23. Vir wie het jy gesmaad en belaster?Vir wie het jy geskreeu en uitgedaag?Die Heilige van Israel!
24. Deur jou amptenare het jy die Here geminagtoe jy gesê het:‘Ek het met my baie strydwaens teen die hoogste berge opgery,na die toppe van die Libanon toe;ek het sy hoogste seders afgekap, sy mooiste sipresse.Ek het sy hoogste skuilhoeke binnegedring, sy digste bosse.