Jesaja 10:14-23 Afrikaans 1983 (AFR83)

14. Asof ek my hand in 'n nes steek, het ek die rykdomme van volke gevat; soos iemand eiers wat rondlê, bymekaarmaak, so het ek al die lande van die aarde onder my verenig. Nie een het 'n vlerk geklap of sy bek oopgemaak en geskree nie.”

15. Kan 'n byl grootpraat teen die een wat met hom kap? Of kan 'n saag hom groot hou teen die een wat met hom saag? Kan 'n stok die een swaai wat hom optel, kan 'n lat die een oplig wat hom gebruik?

16. Daarom sal die Here ons God, die Almagtige, die vernames van Assirië laat krepeer van ellende en sy besittings laat verteer deur 'n vuur wat aanhou brand.

17. Die Lig van Israel sal die vuur wees, die Heilige van Israel die vlam: in 'n enkele oomblik sal die vlam hulle geringes, die dorings en dissels, verbrand en verteer,

18. en ook hulle aansienlikes, die vrugteboorde en die vrugbare velde. Dit sal hulle volkome vernietig.

19. Die bome wat in die bos, Assirië, oorbly, sal so min wees dat 'n klein seuntjie dit sal kan tel.

20. In dié tyd sal dié wat in Israel, in Jakob oorgebly het en ontkom het, nie meer hulle vertroue stel in Assirië deur wie hulle vertrap is nie, maar hulle sal net op die Here, die Heilige van Israel, vertrou.

21. Daar sal 'n oorblyfsel terugkom na die magtige God toe, die oorblyfsel van Jakob.

22. Al sou jou mense, Israel, so baie wees soos die sand van die see, net 'n oorblyfsel sal na die land toe terugkom.Maar die verdelging staan vas, die vergelding kom aan soos 'n vloed:

23. Die Here ons God, die Almagtige, het vas besluit om die hele land te verdelg.

Jesaja 10