Jesaja 10:1-13 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Ellende wag vir julle wat kwaad bevorder met die wette wat julle maak, wat met julle ordonnansies mense laat ly:

2. julle verdraai die reg van die armes, julle ontsê die armes van my volk hulle regte, julle buit weduwees uit, julle plunder weeskinders.

3. Wat gaan julle doen op die dag van afrekening wanneer die straf wat nou nog ver is, julle tref? Na wie toe sal julle hardloop om hulp, en waar sal julle julle besittings wegsteek?

4. Al wat vir julle sal oorbly, is om te buig soos 'n gevangene of om te sterf. Ondanks dit alles bedaar die toorn van die Here nie; sy hand bly uitgesteek teen hulle.

5. Ellende wag vir Assirië,Assirië, die stok waarmee Ek sal straf,die werktuig van my toorn!

6. Ek stuur hom teen die godlose nasie,Ek beveel hom om op te trek teen die volk vir wie Ek kwaad is,om hulle te beroof en te plunder,om hulle te vertrap soos modder in die strate.

7. Maar dit is nie wat Assirië in gedagte het nie,ook nie wat hy beplan nie.Sý bedoeling is om te vernietig, om baie nasies uit te roei.

8. Hy vra: “Is al my vorste nie konings nie?

9. Het dit nie met Kalne gegaan soos met Karkemis nie, met Hamat soos met Arpad nie, met Samaria soos met Damaskus nie?

10. Ek het nog altyd die koninkryke van ander gode ingeneem, gode wie se beelde meer was as dié van Jerusalem en Samaria.

11. Sal ek nie met Jerusalem en sy gode kan doen wat ek met Samaria en syne gedoen het nie?”

12. Maar wanneer die Here alles wat Hy op Sionsberg en in Jerusalem wil doen, afgehandel het, sal Hy die koning van Assirië straf oor sy trots en selfversekerdheid,

13. want die koning van Assirië het gesê: “Ek het dit met my eie mag gedoen, met my eie insig en verstand. Ek het die grenslyne van volke verskuif en hulle voorrade geplunder; ek het hulle inwoners met my mag onderwerp.

Jesaja 10