Jeremia 11:9-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

9. Die Here het vir my gesê: Die mense van Juda en die inwoners van Jerusalem het teen My saamgesweer:

10. hulle is weer terug by die eerste sondes van hulle voorvaders; hulle weier om na my woorde te luister, hulle loop agter ander gode aan en dien hulle; Israel en Juda het die verbond verbreek wat Ek met hulle voorvaders gemaak het.

11. Omdat dit so is, sê die Here, bring Ek 'n ramp oor hulle waaraan hulle nie sal kan ontkom nie. Hulle sal na My om hulp roep, maar Ek sal nie na hulle luister nie.

12. Dan sal die inwoners van die stede van Juda en die inwoners van Jerusalem om hulp gaan roep na die gode vir wie hulle offers gebring het, maar die gode sal hulle nie red wanneer die ramp oor hulle kom nie.

13. Jy het soveel gode gehad as wat jy stede het, Juda, en om te offer aan die skandegod, aan Baäl, het julle soveel altare opgerig as wat daar strate in Jerusalem was.

14. En jy, Jeremia, moenie vir hierdie volk bid nie, moenie vir hulle pleit of bid nie, want as jy My aanroep wanneer die ramp hulle tref, sal Ek nie luister nie.

15. Waarom wil die volk wat Ek liefhet, sy sondige planne in my tempel uitvoer? Kan baie mense en offervleis die ramp van jou afweer dat jy kan jubel?

Jeremia 11