30. Kornelius antwoord: “Vier dae gelede so teen drie-uur die middag was ek in my huis besig om te bid. Toe staan daar skielik 'n man met blink klere voor my,
31. en hy sê: ‘Kornelius, God het jou gebed verhoor en gelet op wat jy vir die armes doen.
32. Stuur iemand na Joppe toe en laat vir Simon, wat ook Petrus genoem word, daar haal. Hy is tuis by 'n ander Simon, 'n leerlooier, wat by die see woon.’
33. Ek het dadelik mense na u toe gestuur, en u was so goed om te kom. Ons is nou almal hier in die teenwoordigheid van God om te hoor wat die Here alles aan u opgedra het.”
34. Toe het Petrus aan die woord gekom en gesê: “Waarlik, ek begryp nou eers dat God nie onderskeid maak nie,
35. maar in enige volk die mense aanneem wat Hom vereer en doen wat reg is.
36. Julle weet dat God aan Israel sy woord gestuur het, naamlik die evangelie van vrede wat Jesus Christus gebring het. Hierdie Jesus is Here van almal.
37. Julle weet ook van die gebeurtenisse dwarsdeur die hele Joodse land. Dit het in Galilea begin ná die doop wat Johannes verkondig het.
38. Julle weet van Jesus van Nasaret, dat God Hom met die Heilige Gees gesalf en met krag toegerus het. Hy het rondgegaan, oral goeie werke gedoen en almal gesond gemaak wat in die mag van die duiwel was, want God was by Hom.
39. “En ons is getuies van alles wat Hy in die Joodse land en in Jerusalem gedoen het. Hulle het Hom doodgemaak deur Hom aan die kruis te hang.
40. Maar God het Hom op die derde dag uit die dood opgewek en Hom laat verskyn,
41. nie aan die hele volk nie, maar net aan ons vir wie God reeds gekies het om getuies daarvan te wees, ons wat ná sy opstanding uit die dood saam met Hom geëet en gedrink het.
42. Hy het ons opdrag gegee om aan die volk te verkondig en te bevestig dat dit Hy is wat deur God aangestel is as Regter oor lewendes en dooies.