Handelinge 10:13-29 Afrikaans 1983 (AFR83)

13. Hy hoor toe 'n stem vir hom sê: “Kom, Petrus, slag en eet.”

14. Maar Petrus sê: “Nooit nie, Here! Ek het nog nooit iets geëet wat onheilig of onrein is nie.”

15. Hy hoor die stem toe weer, die tweede keer, vir hom sê: “Wat God rein verklaar het, mag jy nie onrein ag nie.”

16. Dit het drie keer gebeur, en daarna is die doek weer in die hemel opgetrek.

17. Terwyl Petrus nog wonder oor die betekenis van die gesig wat hy gesien het, kom die mans wat deur Kornelius gestuur is, by die voordeur aan. Hulle was op soek na die huis van Simon

18. en doen toe navraag of Simon wat ook Petrus genoem word, daar tuis is.

19. Terwyl Petrus nog nadink oor die gesig, sê die Gees vir hom: “Daar is drie mans wat jou soek.

20. Kom, gaan ondertoe en moenie aarsel om saam met hulle te gaan nie, want Ek het hulle gestuur.”

21. Petrus het ondertoe gegaan en vir die mans gesê: “Hier is ek. Dis vir my wat julle soek. Waarom is julle hier?”

22. Hulle antwoord: “Kaptein Kornelius, 'n opregte en godvresende man vir wie die hele Joodse volk hoë agting het, het 'n openbaring deur 'n heilige engel gekry dat hy u na sy huis toe moet laat haal om te hoor wat u te sê het.”

23. Petrus nooi hulle toe in en gee vir hulle huisvesting.Die volgende dag het hy en 'n paar van die gelowiges in Joppe saam met hulle gegaan

24. en 'n dag later in Sesarea aangekom. Kornelius het hulle al verwag en het sy familie en huisvriende reeds bymekaar geroep.

25. Toe Petrus daar kom, het Kornelius hom tegemoet gegaan en eerbiedig voor hom gekniel.

26. Maar Petrus het hom laat opstaan en gesê: “Staan op! Ek is self ook maar net 'n mens.”

27. Terwyl Petrus met Kornelius praat, gaan hy die huis binne, waar hy baie mense bymekaar aantref,

28. en hy sê vir hulle: “Julle weet dat 'n Jood nie met iemand van 'n ander volk mag omgaan of by hom in die huis mag kom nie, maar God het vir my gewys dat ek geen mens as onheilig of onrein mag beskou nie.

29. Daarom het ek sonder om teë te stribbel, gekom toe julle my laat haal het. Sê nou vir my waarom julle my laat haal het.”

Handelinge 10