1. My eerste boek, Teofilus, het ek geskrywe oor alles wat Jesus gedoen en geleer het, van die begin af
2. tot op die dag van sy hemelvaart. Voordat Hy in die hemel opgeneem is, het Hy deur die Heilige Gees bevele gegee aan die manne wat Hy as apostels uitgekies het.
3. Ná sy dood het Hy aan hulle met baie onbetwisbare bewyse ook getoon dat Hy lewe. In die loop van veertig dae het Hy by verskeie geleenthede aan hulle verskyn en met hulle oor die dinge van die koninkryk van God gepraat.
4. Terwyl Hy 'n keer saam met hulle aan tafel was, het Hy hulle beveel: “Moenie van Jerusalem af weggaan nie, maar bly wag op die gawe wat die Vader belowe het, soos julle van My gehoor het.
5. Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal binne 'n paar dae met die Heilige Gees gedoop word.”
6. Toe hulle 'n keer weer bymekaar was, het hulle vir Jesus gevra: “Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?”
7. Hy het hulle geantwoord: “Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie.
8. Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”
9. Nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien, en 'n wolk het Hom weggeneem, sodat hulle Hom nie langer kon sien nie.
10. Terwyl Hy weggaan en hulle nog stip na die hemel kyk, het daar skielik twee mans in wit klere by hulle gestaan.
11. Dié sê toe vir hulle: “Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het.”
12. Daarna het hulle na Jerusalem toe teruggegaan van die berg af. Dit is die Olyfberg, vlak by die stad, 'n sabbatsreis ver.
13. In die stad aangekom, is hulle na die bovertrek toe waar hulle gewoonlik vertoef het. Dit was Petrus en Johannes, Jakobus en Andreas, Filippus en Tomas, Bartolomeus en Matteus, Jakobus seun van Alfeus, Simon die Seloot en Judas seun van Jakobus.
14. Hulle het almal eensgesind volhard in die gebed saam met 'n aantal vroue, onder wie ook Maria die moeder van Jesus. Sy broers was ook by.
15. In daardie tyd was daar 'n byeenkoms van die sowat honderd en twintig gelowiges. Petrus het die leiding geneem en gesê:
16-17. “Broers, die Skrifwoord wat die Heilige Gees tevore by monde van Dawid oor Judas uitgespreek het, moes vervul word. Hy is as een van ons gereken en is ook gekies om 'n aandeel in ons werk te hê, maar hy het die gids geword van dié wat vir Jesus gevange geneem het.
18. “Met die geld wat Judas vir sy misdaad gekry het, het hy 'n stuk grond gekoop. Daar het hy vooroor geval en oopgebars, en al sy ingewande het uitgepeul.
19. Dit het bekend geword onder al die inwoners van Jerusalem. Daarom word die plek in hulle taal Akeldama genoem. Dit beteken Bloedgrond.
20. “In die boek van die Psalms staan daar:“Laat sy woonplek leeg word;laat niemand daarin woon nie,“en:“Laat 'n ander sy amp oorneem.