Genesis 42:7-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

7. Toe hy sy broers sien, het hy hulle herken. Maar hy het hulle nie laat agterkom wie hy is nie. Hy het hulle bars aangespreek en gevra: “Waarvandaan is julle?”Hulle het hom geantwoord: “Ons is van Kanaän. Ons kom koop graan.”

8. Josef het sy broers herken, maar hulle het hom nie herken nie.

9. Hy het aan sy drome van vroeër gedink en vir hulle gesê: “Julle is spioene. Julle het net kom kyk waar die land maklik ingeval kan word.”

10. Maar hulle het vir hom gesê: “Nee, Meneer, ons is u onderdane. Ons het net kom graan koop.

11. Ons almal het dieselfde pa. Ons is eerlike mense. Ons is nie spioene nie.”

12. Josef sê toe vir hulle: “Dit is nie. Julle het net kom kyk waar die land maklik ingeval kan word.”

13. Hulle het geantwoord: “Ons was twaalf broers. Ons het dieselfde pa, 'n man in Kanaän. Die jongste is nou nog by hom, en die een leef nie meer nie.”

14. Toe sê Josef vir hulle: “Julle is wat ek vir julle gesê het, julle is spioene!

15. Hieraan sal ek julle toets: So seker as die farao leef, julle sal nie hier weggaan voordat julle jongste broer hierheen gebring is nie.

16. Stuur een van julle om hom te gaan haal. Julle ander sal gevange gehou word. So sal ek vasstel of julle die waarheid praat of nie. So seker as die farao leef: Julle is spioene.”

17. Josef het hulle drie dae lank aangehou

Genesis 42